Ontgroei? Boeke? LOL!

Susan Samuel Van Rooyen is ‘n joernalis en ‘n onderwyser. Sy’t drie kinders. Sy gaan gereeld vir Not Now, Darling. I’m Reading skryf oor kinderboeke en jeugliteratuur.

Hoe pas jy lees vir jou kinders in ‘n besige lewe?

I don’t really. Dit is ‘n stryd. Ons “binge-read” oor vakansies en naweke – wanneer ek ontspanne is en kan stilsit vir ‘n ruk en kan voorlees. Maar tydens die week in kwartaaltyd is dit moeilik, want dis buitemuurs en huiswerk en admin en chaos. Aangesien ek smiddae en saans by die kinders is, beteken ‘n ruskans vir my juis om sonder die kinders te wees! Om alleen te sit en lees, net stilte om my te hê. My kinders is gelukkig om twee oumas te hê wat graag vir hulle voorlees en wat ons gereeld sien. Hulle haal nogal die druk van my af. Dis die wonderlike ding van oumas en oupas. Ekself prober egter altyd ‘n voorbeeld stel deur lees as ‘n noodsaaklikheid vir myself te bedryf, en nie ‘n luukse nie. My kinders sien my gereeld lees – in die kar as ek vir hulle wag of langs die sportveld. Hulle moet sien dat ‘n mens nie hoef te wag tot vakansies om te lees nie.

Hoekom is lees vir jou kinders belangrik vir jou?

Dis vir my belangrik dat my kinders besef dat indien hul eie lewens vervelig is, hulle steeds fantastiese ervarings deur boeke kan hê. Op ‘n klein dorpie met beskermende ouers en ‘n rustige gemeenskap gaan lees en boeke eendag hul redding wees. Dit gaan hulle verlos van ‘n vervelige saai bestaan en dit gaan hulle hopelik laat uitsien na die lewe wat vir hulle voorlê.

Hulle moet dus leer om geduldig te wees, om boeke ‘n regverdige kans te gee en om die waarde en lekkerte van boeke te ervaar. Hierdie vermoë moet aangeleer word – dit kom nie vanself nie. Om vir kinders voor te lees is die enigste manier waarop jy hierdie wêreld vir hulle kan wys. Dis soveel moeiliker om ‘n onbekende plek op jou eie te ontdek. Jy mis dalk van die beste hoekies en gaatjies. As leser en inwoner van hierdie ‘lees’wêreld, voel ek dis my plig om my kinders ‘n klomp gunstelinge te ‘wys’ voordat ek hulle loslaat sodat hulle met selfvertroue verder kan ontdek.

Is die boeke wat in Suidafrika vir kinders en tieners gepubliseer word van ‘n goeie gehalte? 

Ek dink tog so. Ek sien gereeld tipies Suid-Afrikaanse boeke op die rak en dis van baie goeie kwaliteit. Ek dink daar word ongelukkig bittermin aandag aan die plaaslike Engelse boeke gegee, waarskynlik omdat die oorsese Engelse mark so geweldig produktief en interessant is. Ek het al wonderlike plaaslike Engelse boeke gelees waarvan ek nie ‘n enkele resensie kon opspoor nie.

Die mark vir Afrikaanse boeke vir kinders en tieners het ‘n eie persoonlikheid en hoewel die mark redelik klein is, is dit baie aktief. Daar is ‘n paar plaaslike skrywers wat oorheers wat soms nogal steurend is, maar dit gebeur maklik in ‘n klein poeletjie. Daar is lieflike boeke wat tans in Afrikaans vertaal word en ek waardeer die moeite wat uitgewers doen om oorsese skrywers ook in Afrikaans aan ons kinders bekend te stel, veral die klassieke boeke. Ek wens net hulle wil moeite doen om.goeie vertalers te kies. Dit mag dalk kinderboeke wees, maar ek het al gruwelike foute opgetel in onlangse vertalings.

Wanneer jou kinders boeke ontgroei het, hoe besluit jy watter boeke om te hou en watter om weg te gee?

Ontgroei? Boeke? LOL!

Watter boeke van jou kinderdae onthou jy die helderste?

house by mouseEk onthou veral Bill Peet se boeke. Hy was ‘n illustreerder wat destyds by Disney gewerk het en sy boeke is taamlik in Afrikaans vertaal in die vroeë 80’er jare. Een van hierdie boeke, die Woempe, wat gaan oor besoedeling en selfsug, het ek opgespoor in ons plaaslike biblioteek en ek neem dit gereeld vir my kinders uit. Ek kon egter niks anders van hom weer opspoor in Afrikaans nie. Die ander boek is Mamma en die wilde baba, wat ook ‘n vertaalde boek is. Daar is ook ‘n boek oor Mirabella Muis wat huise ontwerp. Ek kon ure na die prentjies kyk.

Wat is die kenmerke van goeie kinderliteratuur?

Die illustrasies is baie belangrik. En nie alle illustrasies werk ewe goed nie. Om mooi te teken beteken nie noodwendig dieselfde as om interessant te teken nie. ‘n Kind word nie noodwendig deur ‘n mooi prentjie geboei nie, maar eerder ‘n interessante prentjie. Ek neig om boeke te koop wat vir my mooi is en waar die stories vir my werk. Nie alle boeke wat ek koop werk ewe goed vir my kinders nie. So dit bly ‘n uitdaging. Ek koop egter nie sommer enige boek net omdat dit byvoorbeeld Afrikaans is nie. Sommige uitgewers is slordig. Soms irriteer die illustrasies my. So ek staan laaaaank daar by die kinderboekrakke en kyk boeke deur voordat ek sommer net koop.

Ouer kinders word weer deur “trend-reading” beïnvloed. Hulle lees wat hul maters lees. Dis hier waar ‘n biblioteek – veral die skoolbiblioteek – van onskatbare waarde is, want ek wil nie noodwendig al 64 uitgawes van Geronimo Stilton of Reënboograndtieners gaan koop nie. Ek gooi selde boeke uit (sien Vraag 4) en kies dus baie mooi wat ek by my huis indra. Biblioteekboeke is egter altyd baie welkom en ons pas dit baie mooi op.

 

Posted under: Uncategorized

Tagged as: , ,

About KarinSchimke

.

Comments are closed.