Boekredakteurs kies hulle beste vir die jaar

Ek’s baie agter met Afrikaanse fiksie hierdie jaar. Toe doen ek ‘n lui ding en vra al die Afrikaanse joernaliste wat met boeke te doen het om hulle aanbevelings te gee sodat ek my krismislysie kan klaar skryf.

 

afr fiksie collageHerman Lategan

Skrywerjoernalis van Seepunt en outeur van die bundel Binnekring Van Spookasems.

Kamphoer, deur Francois Smith, is een van die beste boeke wat ek in Afrikaans die afgelope paar jaar gelees het. Myns insiens is dit is selfs beter as van die top internasionale Engelse literêre werke wat ek die onlangse dekade onder oë gehad het.

Dis ‘n verskriklike storie oor verkragting, verlies, oorlog, en wat dit is om ʼn weerlose mens en brose vrou in hierdie ongure omstandighede te wees. Een wat deur geweld, emosioneel en fisies, platgeslaan is, maar weer kon opstaan.

Hoe kan ʼn man dit skryf? Hoe kan ʼn man homself in die hart van ʼn vrou plaas? Maklik (en dis ʼn woord wat hier met wrang ironie gebruik word). Francois Smith skryf (as ʼn Afrikaanse man) met ʼn soveel deernis en patos oor ʼn vrou wat barbaars behandel is deur mans, omdat sy eie vrou (in die regte lewe) vermoor is.

Ek wil nie veel meer vertel nie, gaan lees die boek self, maar dis ʼn werk wat nog oor ʼn honderd jaar by ons breekbare menswees, en ons eie sin vir wat reg en verkeer is gaan aanklank vind. Ja, die lewe is hel, en die letterkunde laat ons opkyk na die hemel. Soos hier.

Murray La Vita

Profiel- en rubriekskrywer van Die Burger

Die magnificent Kaar deur Marlene van Niekerk en Antjie Krog se Mede-Wete.

Naomi Meyer

LitNet

Ek is inhoudsbestuurder van LitNet en hanteer ook dié webwerf se boekresensies. Dis heerlik en ook frustrerend – mens is geneig om die splinternuwe boeke na die resensente te jaag en dan eerste omtrent die boek te lees as wat mens noodwendig die kans kry om die boek self te lees.

Die twee Afrikaanse boeke van 2014 wat ek nog nie gelees het nie maar wat uitstaan as die moet-lees-boeke van die jaar is Kamphoer deur Francois Smith en Buys deur Willem Anker. Dié twee boeke lê reg vir my om oor die Kerstyd te lees. Die twee boeke wat ek egter wel vanjaar gelees het en ‘n groot indruk op my gemaak het was Winelands, wealth and work, saamgestel deur Kees van der Waal en Donker spoor deur Martin Steyn.

Winelands, wealth and work (UKZN Press): Dié (niefiksie) boek handel oor omstandighede in die wynlande, vertel die narratiewe van plaaswerker en boer, handel oor die tydsame geweld van eeuelange armoede, maar deel ook verhale van hoop. Hier is ‘n onderhoud met die samesteller: http://www.litnet.co.za/Article/onderhoud-winelands-wealth-and-work-transformations-in-the-dwars-river-valley-stellenbos

Donnay Torr

Redakteur van Taalgenoot en Hoezit!

Ek het twee Afrikaanse boeke wat vanjaar vir my uitstaan.

1000 Stories oor Johannesburg: ‘n Stadsroman deur Harry Kalmer (Queillerie)

Die boek is enduit boeiend, ‘n liefdesbrief aan Johannesburg wat ‘n mens inspireer om weg te sink in sy verhale en geskiedenis, goed of sleg. Kalmer se woorde leef, en die boek se trefkrag, vir my, lê veral in die emosies en gewaarwordinge wat die aanwakker. Dit is ‘n absolute gunsteling.

Binnekring van Spookasems: stories oor die lewe – Herman Lategan, saamgetel deur Amanda Botha (Jonathan Ball). Sjoe, ek het nie woorde vir hierdie boek nie. Ek ween elke keer as ek dit oopmaak om nog ‘n stukkie te lees – en nie noodwendig van hartseer nie.

Herman is ‘n fyn waarnemer van die menslike kondisie, ‘n kampioen vir die randfigure en sy gebruik en verstaan van Afrikaans is so mooi dat ek sommer depressief raak oor my eie vermoëns. Dit is ‘n wonderlike boek.

afr boeke collageNelia Richter

Assistentredakteur van Landbouweekblad, en boekeredakteur van Rapport in Weekliks

Roman: Kamphoer van Francois Smith. Dit was ook ’n groot jaar vir die Afrikaanse digkuns: Breyten Breytenbach se Vyf-en-veertig skemeraandsange en Antjie Krog se Mede-wete is van die sterkste digbundels wat verskyn het.

Valsrivier van Dominique Botha in 2013, een van die sterkste debuutromans van die afgelope dekade, het niemand kon dink nog ’n sterk debuut sou so gou daarop volg nie. Dit het wel gebeur: Francois Smith se Kamphoer. Dis ’n sensitiewe boek, oor ’n sensitiewe onderwerp. Smith se boek neem ’n geskiedkundige gegewe, Susan Nell se wrede verkragting in ’n konsentrasiekamp gedurende die Anglo-Boereoorlog. Die meesleurende beskrywing van die Vrystaatse landskap bevestig net dat van die land se grootste skrywers wortels hier het.

Melvyn Minnaar

Vryskutskrywer – kuns, kultuur en wyn

My stem is vir Nagmusiek van Stephanus Muller.

‘n Merkwaardige publikasie. Nie net ‘n huldeblyk aan Arnold van Wyk en sy musiek nie, ‘n ordening van sy oeuvre en beligting daarvan, maar ‘n tour de force wat betref metafiksie. Die problematiek van biografie driftig verbeel en verwoord, maar veral ‘n werk wat gelees wil word. Waarna jy smag om Van Wyk se musiek te hoor.

Helené Prinsloo

Adjunkredakteur: Books LIVE

Tussen boeke het ek heeltyd teruggekeer na die digbundel Solank verlange die sweep swaai deur Danie Marais. Iets omtrent die pretensielose eerlikheid en absolute toeganklikheid van sy verse het my keer op keer getref. Ook, diegene aan wie ek van dié verse voorgelê het, het saamgestem: Marais ontknoop ‘n spesifieke, onpeilbare emosie.

Ilse Salzwedel

Aanbieder en vervaardiger: Skrywers en Boeke by RSG

Woensdagaande tussen 20h00 en 21h00 op RSG, 100 tot 104 FM  – of luister aanlyn

Hoewel Valsrivier rondom die einde van 2013 gepubliseer is, het ek dit eers vroeg in 2014 gelees. Wat ʼn wonderlike boek! Ek het – soos alle boekwurms – ʼn “afsnypunt” in ʼn boek. Voor ek by daardie punt kom, moet ʼn skrywer my intrek, anders wil ek nie verder lees nie. So many books, so little time…) Gewoonlik is dit 10 bladsye, dalk 20 as ek goeie goed oor die boek gehoor/gelees het. Maar Dominique Botha het my aandag teen die helfte van bladsy een al ten volle gehad. Dit was ʼn kombinasie van die atmosfeer wat sy in die eerste paar paragrawe van kinderdialoog geskep het, en ragfyn woordspel, soos in die volgende sin: “Snags fladder die motte met bleek vlerkies teen die kartondeksel en lê stringe eiers soos snoere hekelkraletjies.” Soos ʼn honger leser het ek agter elke goedgekose woord aan gelees terwyl Valsrivier se mense soos familie geword het. Die boek verdien beslis elke prys wat dit verower het.

Dan wil ek ook noem dat ek vanjaar uitgeboul was met die gehalte van Afrikaanse misdaadfiksie. Afrikaanse uitgewers soos LAPA en die NB-groep kan hulself gerus op die skouer klop met die oes van skrywers wat in hierdie genres publiseer. Dis lankal nie net meer Deon Meyer en Chris Karsten wat naelbyt-speurverhale kan skryf nie. Ek kan ʼn hele paar boeke aanbeveel: Sondeboek (Irma Venter) Kopskoot (Rudi van Rensburg), Dubbelspel (Wilna Adriaanse), Die 13e kaart (Madeleine Rust), Donker Spoor (Martin Steyn) en Waar boosheid broei (Peet Venter). Al hierdie skrywers ken hul werk, en kan kers vashou by talle internasionale misdaadskrywers.

Elna van der Merwe

Herskrywer by Huisgenoot, YOU en DRUM en Huisgenoot-boekeredakteur

Dis swaar om net een boek te noem, want dit voel soos om een van jou kinders uit te sonder as jou witbroodjie. Maar laat dit dan Ester deur Kerneels Breytenbach wees. Dis ‘n lieflike liefdesverhaal vermeng met spioenasie, seks en stoomlokomotiewe. Dié Ester is so warm sy kan treinspore laat smelt…

 

 

Posted under: Book Reviews

About KarinSchimke

.

Comments are closed.